top of page

In goeie geselskap

Twee weke gelede is Mary Oliver oorlede. Ek hou so van haar woorde. Sy het nie met haar kop geskryf nie, maar met haar siel. Tydens die afgelope Laudate diens het Jaco hierdie woorde van haar voorgelees:


Let me keep my distance, always, from those who think they have answers. Let me keep company always with those who say “Look!” and laugh in astonishment, and bow their heads.

- Mary Oliver

Een van die grootste oorsake vir bloedige gevegte tussen gelowiges is ons oortuiging dat ons ons standpunte tot die dood moet verdedig. Ons kan dikwels glad nie sien dat my manier van dink dalk maar een van verskeie moontlikhede is nie. Net so belangrik as wat dit is om saam met ander te soek na die dieper waarheid, en so belangrik as wat dit is om my eie diepste waarheid te vind waarvan uit ek lewe, so belangrik is dit om in te sien dat my weergawe van DIE WAARHEID dalk beperk, of onvolledig of selfs skeefgetrek kan wees.


‘n Klomp jare gelede was ek beslis een van diegene wat naarstigtelik gegryp het na ‘n stel onbeweegbare oortuigings en dit as my emosionele, psigiese, spirituele en morele vasmeerplek gebruik het. En wee jou as jy van my sou durf verskil. Dit het ‘n paar nare ervarings gekos waar ek aan die ontvangkant van ander se sekerheid was om my te laat besef dat ons maar versigtig moet wees om te vinnig ons oortuigings in sement te giet.


Ek sien te gereeld hoe ons onvermoë om oop te wees vir ander idees of moontlikhede, hoe ons onverdraagsaamheid vir ander se radikaal ander standpunte, en ons oortuiging dat ek reg is en jy verkeerd, en daarom is God aan my kant en nie aan joune nie, oneindige skade en pyn veroorsaak.


Ek sien selfs hoe mense sê dat hulle nie omgee om te baklei vir wat reg is nie, selfs al lê die bloed in plasse, asof hulle kruisvaarders is vir hulle eie weergawe van die waarheid is (en ons almal weet wat die gevolg van die kruistogte was).


Hierdie is natuurlik ‘n komplekse argument wat ons nie moet oorvereenvoudig nie.

Nog steeds… ek soek graag na hierdie geselskap:


Let me keep my distance, always, from those who think they have answers. Let me keep company always with those who say “Look!” and laugh in astonishment, and bow their heads.

351 views

Recent Posts

See All
bottom of page