Het jy al ooit iemand teëgekom wat letterlik alles waaraan hy of sy raak en almal met wie hy of sy te doen kry ‘n bietjie beter los as wat dit voorheen was. Ek ken so iemand. Ek het haar op ‘n dag so dopgehou en gewonder: hoe kry sy dit reg? Of meer nog: is sy eers bewus daarvan?
Sy is nie ‘n perfeksionis nie. Sy het baie foute en is ‘n gewone mens. Maar as sy êrens was is dit altyd so bietjie netjieser en so bietjie mooier as voorheen, al het sy net ‘n paar papiertjies opgetel of die kussing wat op die vloer lê op die bank teruggesit. As sy by iemand is voel hulle altyd so bietjie heler en so bietjie gesonder as voor sy daar ingestap het, want sy praat nie sleg nie, soms praat sy bitter min nie, sy luister baie en sy moedig aan en probeer kyk of daar dalk ‘n klein manier is waarop sy iemand kan help. Sy het geen behoefte om die wêreld te verander nie. Trouens, dink ek regtig nie sy is bewus dat sy so optree nie, en ek weet nie of mens dit vir haar moet sê nie, want dit gebeur so vanself, dat ek regtig twyfel of sy daaroor dink.
Die vraag is nou natuurlik: in watter mate is ek die soort mens wat die lewe en mense op so manier hanteer dat ek dit heler en gesonder laat as voor ek daar deurgestap het?
Wanneer jy mense wat dit regkry om hulle wêreld mooi en heel en gesond te maak dophou sien jy dat hulle inherent met drie lewenskwaliteite loop.
Hulle het diep respek vir ander mense en vir die lewe. Die engelse woord “reverence” sê baie beter waarvan ons praat as die woord “respect”. ”Reverence” praat van ‘n amper heilige agting vir alles van die lewe omdat ons weet dat alles aan God behoort.
Hulle leef bewustelik. Hulle sien dinge en mense om hulle raak. En omdat hulle raaksien en bewus is roep dit wat hulle sien na iets dieper in hulself om hulself op ‘n manier te gee vir dit wat buite hulle lê. Mens kan nie met groter liefde leef as om van jouself te gee nie.
Hulle glo daarin om met ‘n sekere kwaliteitte leef. Om ‘n lewe van excellence of uitnemendheid te leef. Dit beteken nie om ‘n perfeksionis te wees nie. Dit beteken om ‘n lewe te leef waar dit wat jy doen en is gerig van hoë waarde en hoë kwaliteit van jou menswees.
In Augustus verlede jaar was daar ‘n artikel oor John Scott wat ‘n groentetuin op sy sypaadjie geplant het, nadat daar van sy blomkool gesteel is. Hy het besef dat mense honger is en besluit om nog ‘n groter groentetuin op sy sypaadjie te plant. Stel jou voor wat gebeur in almal se lewe wat van sy bone en tamaties en beet pluk en huistoe neem. John Scott is die soort mens wat die wêreld en mense beter los as wat hy hulle gevind het en sonder dat hy dit eers weet ‘n spoor van God se teenwoordigheid gelos het.
Brennan Manning skryf in The Furious Longing of God:
Jesus said the world is going to recognize you as His by only one sign:
the way you are with one another on the street every day.
You are going to leave people feeling a little better or a little worse.
You’re going to affirm them or deprive them, but there’ll be no neutral exchange.
Wil ek graag so leef dat ek die wêreld en die lewe en die mense om my beter los as wat ek hulle gevind het. Ek wil graag. En waarom? Omdat dit is wat God heeltyd doen.
Comments